Hoofblad

Om met ‘n breinbesering gediagnoseer te word is soos om ‘n lewenslange vonnis te ontvang. Nie vir hierdie gesin nie. Ons het hoop. Kom stap saam met ons op ‘n paadjie deur minder bewandel.

Benjamin en Lara Smith is ‘n tweeling gebore op 18 Augustus 2009. Hulle is voltermyn gebore sonder enige komplikasies en mamma Sanmari het ‘n gesonde swangerskap gehad met die twee. Toe hulle op 8 maande nogsteeds nie op hul eie kon sit nie het die rooi ligte begin flits. Benjamin het ligte epilepsie op 6 maande begin kry maar hy is amptelik eers op 1 en half daarmee gediagnoseer. Lara het in sy spore gevolg op 11 maande. Elke denkbare en beskikbare toets in die land is op hulle twee gedoen maar tot op hede weet niemand waar hulle besering plaasgevind het nie. Hulle is in 2014 met spastiese kwadriplegiese serebraal gestremdheid gediagnoseer wat in leuke taal brein verlamming beteken.

IMG-20150311-WA0011

Hierdie twee kindertjies se lewens getuig sover net van die goedheid en guns van God. Gert en Sanmari, hul ouers, was vir 3 en ‘n halfjaar kinderloos en die dokters het gesê dat Invitro behandeling die enigste hoop was wat hulle gehad het om swanger te kan raak. Die Here het egter vir hulle ‘n belofte gegee en hulle het hieraan geklou. Sanmari wou baie graag ‘n tweeling gehad het maar het vir die Vader gesê dat as Hy weet dat sy dit nie sou kon hanteer nie, Hy eerder net vir haar een kind moes gee maar dat sy dan bitter graag ‘n seuntjie sou wou hê. So raak sy toe swanger in 2006 met hul eersteling Ruben en het baie vrede gehad dat die Here haar iets gespaar het waarvoor sy nie opgewasse was nie.

‘n Jaar of wat later word daar een dag in die kerk ‘n profesie oor haar en Gert uitgespreek dat hul volgende wonderwerk oppad is en dat hierdie wonderwerk selfs groter sou wees as die eerste een en dat dit ‘n “double blessing en double portion” sou wees. Nou ja, ongeveer 6 maande later was Sanmari swanger met hul tweeling en hulle is voltermyn gebore met gesonde geboortegewigte van 3.05 kg vir Benjamin en Lara teen 2.65 kg.

nuus2

Daar het hierdie gesin se uitdagende paadjie begin met baie hartseer maar ‘n deurweef met ‘n goue draad van God se genade, voorsienigheid, guns en getrouheid. Net soos wat Hy destyds vir hulle ‘n belofte gegee het dat hul kinders sal hê, het Hy ook belowe dat hierdie kinders se ‘toestand’ tot eer en verheerliking van Hom sal wees en dat hulle getuienis duisende mense se lewens sal aanraak.

nuus